Van die Familie

Hiermee wil ons graag die geseënde lewe van Henka Haarhoff gedenk. Omstandighede verhoed ons om ‘n gedenkdiens te hou en ons vra dus dat elkeen wat hierdie ontvang, op ‘n stil, private oomblik deur die foto’s sal blaai om saam met ons dankbaar te wees vir die vele rolle wat sy in soveel mense se lewens gespeel het. Haar laaste paar dae het sy by haar kinders op Graaff-Reinet deurgebring en het sonder pyn in haar slaap gesterf. Baie dankie aan almal wat hulle medelye met ons getoon het.

Johannes, Tertia, Johann, Lindi, Rudi en klein Alex.

Lewensskets

Johanna Magdalena Wilhelmina (Henka) Reinecke is op 18 Oktober 1927 op die plaas Opzoek buite Calitzdorp gebore, die sesde kind en laatlammetjie van David Andries Reinecke (1879-1954) en Johanna Magdalena Wilhelmina gebore Linde (1890-1982). Met so ‘n lang naam was sy gou Hannah (op die engelse manier uitgespreek) wat sy in haar kleuterjare as “Henga” herhaal het – vandaar die ongewone noemnaam Henka. Sy word groot op die plaas Matjiesvlei by Calitzdorp totdat haar ouers in 1938 in Calitzdorp gaan woon het. Na matrikulasie in 1944 is sy na die Graaff-Reinet Opleidingskollege waar sy ook haar klavieropleiding kon voortsit en onder andere die eerste koor begelei het van Philip Mclachlan, wat later so ‘n sukses van die Stellenbosse Universiteitskoor gemaak het. Na haar twee jaar op kollege, het sy by die Dolleyskool op Uitenhage begin skoolhou waar haar latere man reeds ‘n onderwyser was. Hulle is In 1949 in die NGK Newtonpark-Wes in Port Elizabeth getroud.

Henka het deurentyd, buiten ‘n paar jaar tydens haar seun Johannes se babajare, onderwys by die Laerskool Winterberg saam met haar man gegee – eers kindertuin en later musiek. Kort na hulle aftrede in 1982 het hulle na Pretoria verhuis en onderskeidelik in Sanglen in Faerie Glen, later in Brummeria Renaissance en sedert 2003 in Palms Renaissance gebly. Haar man David van den Berg Haarhoff in is 2004 oorlede. Sy het in haar woonstel aangebly en ‘n aktiewe rol in die aftree-oord gespeel deur vir baie jare met die versorging van die nuusbrief te help, elke Vrydagmiddag ‘n saamsinggeleentheid vir ‘n aantal van die inwoners te hou en die klavierbegeleiding tydens kerkdienste en begrafnisse in die oord te behartig.

As ma, ouma en oumagrootjie het sy tot die laaste dag-tot-dag by haar familie se doen en late betrokke gebly. Ons eer haar nagedagtenis.

Henka, 6 jaar oud, saam met haar oudste suster Kate, wat vir haar soos ‘n tweede ma was.
Die hoërskoolmeisie, 13 jaar oud, in haar volkspeledrag.
Pas afgestudeer, 20 jaar, saam met haar broer Joey by sy motor.
Pas afgestudeer, 20 jaar oud.
Die jong onderwyseres, 21 jaar oud, afgeneem in ‘n ateljee op Uitenhage.
Die bruid, 22 jaar oud, in Port Eizabeth.
Die jong ma, 27 jaar oud.
Die musiekonderwyseres, 37 jaar oud.
Trotse ma, 49 jaar oud, met Johannes se gradeplegtigheid.
Die ouma, 70 jaar oud, met haar twee kleinseuns.
Die goue bruid, 72 jaar oud, op Stellenbosch.
Op besoek by Johannes en Tertia op die stadsplein van Delft, Nederland, 78 jaar oud.
Op besoek in Graaff-Reinet, 88 jaar oud, in haar gunsteling Karooson.
‘n Gesellige oomblik in Johannesburg, 88 jaar oud.
Die sangleier en klavierbegeleidster in die Palms Renaissance, Pretoria, 88 jaar oud.
Saam met ‘n paar van die teddiebeertjies wat sy vir ‘n kinderhuis gebrei en saam met haar kleinkinders opgestop het, 88 jaar oud.
Saam met haar familie, afgeneem in Johannesburg, 90 jaar oud.
‘n Bederf-ontbyt by een van die eetplekkies op Graaff-Reinet, 91 jaar oud.
Omring deur ‘n paar van haar dierbare vriendinne in die Palms Renaissance, waar sy sedert Desember 2003 gewoon het.